Chinees-bestuurde litiummyn ontstig mynwerkersunie

Werkers by ‘n Chinees-bestuurde litiummyn in Uis het lank gekla oor swak lewensomstandighede en onveilige werkspraktyke. ’n Feitesending deur die Mynwerkersunie van Namibië in Augustus na die myn – wat deur Xinfeng Investments bedryf word – het bevind dat plaaslike werkers in piepklein, warm sinkhuisies sonder behoorlike ventilasie woon. Die vakbond het ook ‘n gebrek aan privaatheid in die sanitasieblokke gevind, sonder afskortings tussen toilette en storte. Daarenteen het die myn se Chinese werkers gemaklike kamers met lugversorging en ordentlike badkamers. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met George Filleppuss Ampweya, die vakbond se sekretaris-generaal, wat sê niks het verander nie.