Calle waarsku onwettige grondbesetters op regeringsplase

Die Namibiese landbouminister Calle Schlettwein sê die kwessie van onwettige omheining en die verwydering van mense van hervestigingsplase wat deur die regering aan hulle toegeken is, moet met alle erns aangespreek word. Hy het plaas Bravo in die Kavango Wes-streek besoek waar ‘n toestroming van beeseienaars na bewering uit die Ohangwena- en Oshikoto-streke groot gebiede omhein het. Schlettwein sê dit dwing die San-gemeenskap om elders weiding te soek, terwyl hulle na regte hervestig is. Hy sê dit is ‘n baie ernstige saak en die ministerie is vasbeslote om alles in sy vermoë te doen om die onwettige heinings te verwyder en die mense wat dit opgerig het aan te kla. Hy het bygevoeg dat dit nie net in die twee Kavango-streke voorkom nie en grondbesetters gewaarsku dat stappe geneem sal word.