Bisey vaar uit teen openbare sektor

Die president van die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid Bisey /Uirab het uitgevaar teen die openbare sektor wat hy sê nie reageer op die privaatsektor se navrae, pogings tot samewerking en kommer wat hy opper nie. In sy sogenaamde State of Business-toespraak sê hy die kamer eis doeltreffende kommunikasie tussen die twee sektore. Hy sê dit gaan sy verstand te bowe dat daar nog geen antwoord is van die openbare sektor op die voorlegging vir ‘n forum vir dialoog tussen die twee sektore nie. Beleidsmakers moet beter met die privaatsektor kommunikeer, veral met die heersende ekonomiese klimaat. Hy het ook die vertragings in aanpassing in wetgewing of, die implementering van wetsontwerpe betreur.