Belg sê Van de Vijvers skuld hom N$3,7m, hy dagvaar

Die Van de Vijver Familie-trust word saam met sy bestuur, Paul van de Vijver en sy twee seuns Christophe en Olivier, en nog ‘n trustee Petrus Swart, gedagvaar vir betaling van net meer as 3,7 miljoen Namibiese dollar. Die saak is deur ‘n Belgiese sakeman Christian Ophoff gemaak. In sy stukke voor Regter Marlene Tommasi sê hy dat die trust, en die trustees op 15 Augustus 2018 skriftelik erken het dat hulle die geld aan hom skuld en verskeie aandele aan hom sedeer het. Daar is ooreengekom dat twee betalings vir die skuld voor 30 November 2018 gedoen sou word. Hy sê ten spyte van talle beloftes is geen betaling gemaak nie. Die Van de Vijvers, oorsponklik van België, het voorheen Leadings Lodges of Namibia bedryf met hulle vlagskip lodge, Epacha, wat naby Etosha geleë is. Dit vorm nou deel van die Namibia Collection. Die saak word verdedig en verhoordatums sal vanoggend bepaal word.