Ara-papegaai kry eerste prostetiese 3D-snawel

Baanbreker-chirurgie is op ‘n 20-jarige ara-papegaai uitgevoer by die Robberg Veeartsenykliniek in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap. Die prosedure is gelei deur ‘n veeartsenykundige spesialis in tandheelkunde en kaakchirurgie by die fakulteit veeartsenykunde, professor Gerhard Steenkamp, en ‘n span aan die Universiteit van Pretoria. Hulle het ‘n prostetiese 3D-snawel gedruk en aangeheg nadat die voël se snawel beskadig is in ‘n skermutseling met ‘n ander papegaai by ‘n voëlskuiling. Volgens sy eienaar, Trevor Glover, het die beplande operasie byna twee jaar gesloer weens die Covid-inperking.