Esau ontken dat hy visvangkwotas aan Namgomar Pesca toegeken het
Bernhardt Esau, die voormalige minister van visserye hulpbronne en Fishrot-beskuldige, het ontken dat hy visvangkwotas aan Namgomar Pesca Limitada, ‘n Angolese maatskappy toegeken het. Esau het vandag in sy getuienis by sy formele borgtogaansoek in die Windhoekse hoërhof aan regter David Munsu gesê hy was nie in beheer van die toekenning van visvangkwotas nie. Hy het getuig die ooreenkoms om Namgomar Pesca te nomineer as die Angolese entiteit wat die kwotas ontvang, kom van die kantoor van sy destydse permanente sekretaris, Ulitala Hiveluah. Esau het ook ontken dat hy ‘n hand in die Angola-Namibiese bilaterale visvang-ooreenkoms gehad het. Hy het getuig dat dit bloot as ‘n aanbeveling na sy kantoor gekom het en dat hy eers deur die permanente sekretaris ingelig is nadat daar reeds op die ooreenkoms besluit is.