NEFF hou môre protes-optog teen twee Nampol-lede in Keetmans-hof

Die NEFF-aktivis Michael Amushelelo het bevestig die party gaan môre ‘n vreedsame protes-optog op Keetmanshoop hou wanneer twee Namibiese polisiebeamptes in verband met die dood van Elleste Plaatjie in die landdroshof op dié Suide-dorp gaan verskyn. Twee Nampol-lede van die Spesiale Reserwemag word van moord aangekla nadat hulle glo die 31-jarige Plaatjie tydens ‘n roetine-polisie-operasie aangerand het. Plaatjie het later in die Katutura-staatshospitaal in Windhoek aan sy beserings beswyk. Die mediese verslag meld dat Plaatjie as gevolg van die aanranding traumatiese en oppervlakkige beserings aan sy liggaam opgedoen het.