Angolees in warm water oor Ecstacy

‘n 38-jarige Angolese burger is in Windhoek gearresteer nadat vasgestel is dat hy die beweerde eienaar was van ‘n pakkie wat Ecstacy ter waarde van 294 240 Namibiese dollar bevat het. Die plaaslike uitsaaier berig die pakkie is in November verlede jaar vanaf Europa na Namibië verskeep. Volgens NamPol se woordvoerder, adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, het Europese owerhede Namibiese amptenare in Desember verlede jaar deur Interpol van die pakkie in kennis gestel. ‘n Ondersoek is gelas en die pakkie is by ’n plaaslike koeriermaatskappy opgespoor. Die ontvanger daarvan is ook opgespoor en ‘n beheerde aflewering is gedoen. Hy sal na verwagting Maandag in die Windhoek Landdroshof verskyn.