Sentrale damme op 10,4%, ooste s’n 1,2% vol

Daar is net 10,4 persent waterbronne oor in die drie sentrale damme wat onder meer Windhoek voorsien, volgens NamWater se weeklikse dambulletin. Von Bach is op 10,4 persent en Swakoppoort staan op 17,4 persent. In die Suide is Hardap op 5,8 persent met 324 000 kubieke meter wat die afgelope week vir die vark- en melkplaas en Mariental onttrek is. Neckartal is 77,6 persent vol na 2,18 miljoen kubieke meter uitgelaat is vir boere onder die damwal. Naute by Keetmanshoop is op 32,4 persent en die Oanobdam by Rehoboth het 32 persent water. Die Ooste se totale bronne is op 1,2 persent met die Otjiverodam op 1,9 persent. Die twee Viljoendamme by Gobabis is op 1,9 en 5,3 persent. In die Noorde het die Olushandjadam water gevat en is op 37,4 persent.