Wanvoeding onder kinders wek kommer

Die Namibiese regering het die week sy 1 000-dae veldtog by die Epakokliniek op Gobabis herdenk. Die veldtog poog om voldoende voeding aan verwagtende vroue in die eerste 1 000 dae van swangerskap te voorsien, omdat dit die grondslag lê vir ‘n kind se groei en ontwikkeling. In 2022 is daar bevind dat 7,1 persent van Namibiese kinders aan akute wanvoeding ly, met 22,7 persent wat nie voldoende groei nie as gevolg van voedingstekorte. Dr Alice Kabongo, ‘n senior mediese beampte by die Gobabis-hospitaal, sê sy is diep bekommerd oor die hoë vlakke van wanvoeding. Dit dui op die behoefte aan groter bewustheid en aksie rondom moeder- en vroeë kindervoeding.