Veldtog oor voeding gepas vir Omaheke waar talle kinders sterf

Die Namibiese regering in samewerking met die gesondheidsministerie en die Verenigde Nasies sal die week sy 1 000-dae veldtog by die Epakokliniek op Gobabis herdenk. Die veldtog poog om voldoende voeding in die eerste 1 000 dae van die begin van swangerskap te voorsien omdat dit die grondslag vir enige kind is. Die veldtog is geloods in 2022 nadat daar in ‘n SAOG-ondersoek bevind is dat 7,1 persent van Namibiese kinders aan akute wanvoeding ly met 22,7 persent wat nie voldoende groei nie as gevolg van voedingstekorte. Die herdenking in Omaheke is van pas. Daar is vroeër berig dat 45 kinders onder die ouderdom van vyf vanjaar aan wanvoeding in die Omaheke-streek dood is. In Julie en Augustus is 11 nuwe gevalle van wanvoeding bevestig met een sterfte wat aangeteken is.