84% van Eswatini-burgers ongelukkig met koning, regering

’n Afrobarometer-opname het bevind dat baie burgers van Eswatini ontevrede is met die lewenstandaard in die laaste absolute monargie in Afrika. Volgens die opname presteer die regering uiters swak op ekonomiese sleutelkwessies. Die oorweldigende meerderheid, 84 persent, sê die land gaan in ‘die verkeerde rigting’, twee keer soveel as in 2018, toe 42 persent so gevoel het. Baie meen die koning moet abdikeer. Verlede maand het die koning die regering ontbind ter voorbereiding van die tinkhundla-verkiesing wat op 29 September vasgestel is. Tinkhundla is ‘n vorm van bestuur gebaseer op tradisionele administratiewe onderafdelings.