Namibië in sterk groep vir Hokkie Vroue Junior-wêreldbekerJune 13, 2025

Namibië is in die sterk Groep C geloot vir die Hokkie Vroue Junior-wêreldbeker wat in Santiago, Chile gespeel gaan word. Die ander groepslede is Duitsland, Indië en Ierland. Die loting het Donderdagaand in Santiago plaasgevind. Ses groepe van vier spanne elk is gefinaliseer vir die uitgebreide toernooi, wat vir die eerste keer 24 spanne in aksie sal sien. Die toernooi, wat elke twee jaar gespeel word, is geskeduleer vir 1 tot 13 Desember vanjaar.