Springbok Sewes klop Ierland
Die Springbok Sewes het dit twee uit twee gemaak met ‘n 28-7-oorwinning oor Ierland in hulle tweede wedstryd by die Vancouver Sewes. Drieë deur Ricardo Duartee en Sebastian Jobb, wat sy terugkeer gevier het met ‘n drie in die doodsnikke, het die Blitsbokke na die kwarteindstryd laat deurdring. Die span het Vrydagaand hulle veldtog afgeskop met ‘n indrukwekkende, naelskraapse 12-10 oorwinning oor hulle aartsvyande Nieu-Seeland. Die Blitsbokke moes hard werk vir hulle oorwinning en het staatgemaak op hulle verdediging in ‘n taai stryd waar hulle min balbesit gehad het. Die Suid-Afrikaners kom nou vanaand net na half-tien te staan teen Australië in hulle laaste groepswedstryd voor die beker-kwarteindstryde vroeg Sondagoggend. Australië het Ierland in hulle aanvangswedstryd met 17-7 geklop, maar het met 7-17 verloor teen Nieu-Seeland in hulle tweede wedstryd van die toernooi.