11 vas vir brand by Turkse ski-oord

Turkse owerhede hou 11 mense aan as deel van die ondersoek na ‘n brand by die Kartalkaya ski-oord in die Boluberge waarin 79 mense dood en meer as 50 beseer is. Oorlewendes berig dat hulle nie alarms gehoor het toe die brand Dinsdag in die vroeë oggendure in die Grand Kartal hotel begin het nie, en daar was ook nie brandtrappe nie. Mense moes glo rookgevulde gange in totale duisternis navigeer en sommige het by vensters uitspring. Twee van hulle is dood. Geregtelike medisyne-eenhede gaan voort om slagoffers te identifiseer terwyl vlae regoor die land halfmas gewaai het op ‘n nasionale dag van rou.