Trump haak steeds vas op Groenland, Panamakanaal
Donald Trump weier om uit te sluit dat Amerikaanse militêre mag gebruik sal word om beheer oor die Panamakanaal terug te neem en Groenland in beslag te neem. Die inkomende Amerikaanse president het op ‘n perskonferensie by Mar-a-Lago uitdruklik geweier om versekerings te gee teen die gebruik van militêre of ekonomiese dwang, na hy gedruk is oor sy planne met Panama en Groenland. “Ek kan jou nie verseker oor een van die twee nie,” het Trump ‘n verslaggewer se vraag beantwoord. “Maar ek kan dit sê, ons het hulle nodig vir ekonomiese sekuriteit.” Die opmerkings sal waarskynlik diplomatieke alarmklokke regoor die wêreld laat afgaan terwyl Trump voorberei om vandeesmaand na die Withuis terug te keer met ‘n agenda van gespierde Amerikaanse nasionalisme.