Nog ‘n rekord-kokaïenvonds by Sisilië  

Owerhede in Italië het beslag gelê op ‘n rekord 5,3 ton kokaïen met ‘n geraamde waarde van 850 miljoen euro langs die suidkus van Sisilië. Die Italiaanse polisie het ‘n skip wat uit Suid-Amerika vertrek het gemonitor, en toegeslaan toe hulle sien hoe pakkies uit die skip gegooi en deur ‘n vistreiler uit die water gehaal word. Die dwelms is in ‘n versteekte kompartement op die skip gevind. Twee Tunisiese burgers, ‘n Italianer, ‘n Albaniër en ‘n Franse burger is in hegtenis geneem. In April het die Italiaanse polisie bykans twee ton kokaïen gevind wat in die see langs die ooskus van Sisilië gedryf het. Die dwelms is vermoedelik ook deur ‘n vragskip afgelaai om later opgetel te word.