Koalisieparty INDIA wil Indiese premier verslaan
Die leiers van 26 politieke partye in Indië het ‘n alliansie gevorm in ‘n poging om die land se eerste minister, Narendra Modi, in volgende jaar se verkiesing te klop. Die koalisieparty sal bekendstaan as die Indiese Nasionale Ontwikkelings-inklusiewe Alliansie, oftewel as die akroniem – INDIA. Volgens die leier van die amptelike opposisie, Rahul Gandhi, is die naam gekies omdat die partye veg vir die stem van die land, wat volgens hom onder Modi se Bharatiya Janata Party blootgestel word aan toenemende ongelykheid en werkloosheid. Verdere besonderhede oor die koalisieparty, onder meer wie die leier sal wees en die algemene grondwet, is nog nie bekend nie. Modi se party hou intussen ook samesprekings met ander partye, ter voorbereiding van die komende verkiesing.