Taakspan ondersoek voortdurende skuld aan NamPower, NamWaterJuly 17, 2023
’n Taakspan sal van vandag af streek- en plaaslike owerheidsrade besoek om die oorsaak van die uitermatige skuld aan NamWater en NamPower te bepaal. NamWater word meer as 1,2 miljard Namibiese dollar geskuld terwyl NamPower rondom ‘n miljard dollar geskuld word. Die taakspan sal ook Nored besoek as deel van die assessering. Dit volg op ‘n kabinetsvoorskrif aan die ministeries van stedelike ontwikkeling en finansies om ‘n omvattende assessering te laat doen ten einde ‘n permanente en volhoubare oplossing te vind vir die voortdurende wanbetalings. Die projek sal in twee groepe verdeel word, met die eerste wat vandag in die Karas-streek begin en op 18 Augustus in die Erongo-streek eindig. Die tweede groep begin vandag in die Hardapstreek en kom op 13 Augustus in die Otjozondjupa-streek ten einde.