Nuwe plan vir mens-dier konflik (weer)

Mens-dier konflik raak ‘n reuse-uitdaging in Namibië en bedreig bewaringsinisiatiewe. Tussen 2001 en 2019, is 112 165 gevalle aangemeld met 1 415 diere wat as probleme verklaar is en of verskuif of doodgeskiet is. Tussen 2008 en 2018 is 16,4 miljoen Namibiese dollar uitbetaal in vergoeding. Nou het die regering die omgewingsministerie opdrag gegee om ‘n vyf-jaar Nasionale Mens-Natuur Konflik-aksieplan te ontwikkel. Die kabinet het die ministerie beveel om binne drie maande die plan te ontwikkel. Volgens die uitvoerende direkteur Colgar Sikopo is die drie maande van Julie tot einde September en hy sê die finale konsep sal teen die tweede week van Augustus voltooi wees. Dus sal die aksieplan dan aan die kabinet oorhandig word en indien goedgekeur, sal dit vanaf 1 September geïmplementeer word.