Bekende dokter van Karasburg sterf ná ongeluk

Die 71-jarige dr. Gert Cloete Burger van Karasburg het ná ‘n ongeluk op die pad tussen Aroab en Karasburg weens sy beserings in die Karasburg-hospitaal beswyk. Volgens die Namibiese polisie het die dokter en sy vrou in ‘n wit dubbelkajuit Toyota Land Cruiser gereis wat ‘n groot sleepwa getrek. Dr. Burger het sowat 50 kilometer voor Karasburg beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan. Die egpaar het ligte tot ernstige beserings opgedoen en is per ambulans na die Karasburg-staatshospitaal gebring. Dr. Burger het aan sy beserings beswyk terwyl hy voorberei is om na Windhoek vervoer te word vir verdere mediese behandeling. Sy liggaam sal na die Keetmanshoop-staatslykshuis vervoer word vir ‘n nadoodse ondersoek.