Mediese tender: Verkrygingsraad het nog nie besluit nie

Die Namibiese Verkrygingsraad het nog geen uitsluitsel oor die omstrede gesondheidstender nie. Volgens wat berig word, oorweeg die raad nog die kwessie. Die woordvoerder Johanna Kambala wou ook nie aan plaaslike media bevestig wanneer ‘n besluit gemaak sal word nie. Sy wou ook nie sê of enige briewe, wat 20 van die bieërs blykbaar ingedien het, reeds die hersieningspaneel genader het nie. Sy sê die kwessie is tans by die beoordelingsvlak en dus, is daar nie kommentaar wat nou gelewer kan word nie. Die toekenning van veral die tender aan Shapwa Kanyama se Amnics Trading het hewige reaksie uitgelok. Die hoof van die raad, Amon Ngavetene is onlangs deur media aangehaal dat daar nie voldoende besware van bieërs was om die besluit vir toekenning te hersien nie.