Walvis-man wat vermoedelik vrou doodsteek, borg geweier

Die 57-jarige Ruben Montgomery wat van moord en poging tot moord aangekla word, is borgtog geweier nadat hy sy eerste verskyning in die Walvisbaai-landdroshof gemaak het. Hy word daarvan aangekla dat hy die Namibiese vrou, Hester Maria van Zyl, vermoor het en nog ‘n Namibiese vrou ernstig beseer het. Die voorval het Sondagaand by Rooibank in Walvisbaai plaasgevind. Na bewering was Montgomery en sy skoonsuster in ‘n argument betrokke, waarna sy hom uit die huis gejaag het. Hy het egter teruggekeer met ‘n mes wat onder sy klere versteek was en die twee vroue met geweld aangeval. Van Zyl is verskeie kere met die mes in haar liggaam en borskas gesteek en sy het op die toneel aan haar beserings beswyk. Die beseerde slagoffer met meswonde aan haar arm is na die Walvisbaai-staatshospitaal geneem, maar later na ‘n Windhoekse hospitaal oorgeplaas. Montgomery se saak is tot 13 April vir verdere ondersoek uitgestel.