Onderwysministerie sê hoekom nuwe WHS-skoolhoof aangestel is June 9, 2025

Windhoek Observer berig die regering het dokumente by die Komitee vir Onderrigdienste ingehandig wat verduidelik hoe die nuwe skoolhoof van Windhoek Hoërskool aangestel is. Dit volg na WHS se skoolraad ‘n aansoek in die Hoërhof in Windhoek gebring het waarin hulle die hof versoek om die aanstelling van Teofilus Nuugulu tersyde te stel. Volgens die skoolraad het Nuugulu ‘n punt van 61,2 persent behaal tydens onderhoude vir die pos. Dit was die hoogste uit al sewe kandidate waarmee onderhoude gevoer is. WHS se skoolraad sê dié punt is egter ver onder die standaard wat die skool van só ‘n belangrike leierskapsrol verwag. Die raad beweer voorts die regte prosedures is nie gevolg nie. Die saak sal vandeesweek deur die hof aangehoor word. Die onderwysministerie sal waarskynlik die aansoek teenstaan.