Zuma vra vandag vir interdik, Cele sê lede is reg om hom te arresteer

Die kantoor van die hoofregter in Suid-Afrika sê oudpresident Jacob Zuma se aansoek om ‘n interdik van sy skuldigbevinding van minagting van die hof, en vonnis van 15 maande tronkstraf, sal vanoggend in die hoërhof in Pietermaritzburg om half-12 aangehoor word. Media kan die aansoek aanlyn volg. Intussen het die buurland se minister van polisie Bheki Cele gesê die mag tref tans voorbereidings om Zuma vandag in hegtenis te neem sou die interdik nie slaag nie. Die Konstitusionele Hof sal volgende week Maandag sy hoofaansoek aanhoor om die uitspraak en die vonnis vir minagting te herroep. Volgens die buurland se staatsregkenner Pierre de Vos is Zuma se aansoek vir die tersydestelling van die bevel ‘n vorm van sielkundige manipulasie om die hof in sy eie oordeel te laat twyfel.