Zuma sal tronkstraf by Westville uitdien

Oudpresident Jacob Zuma gaan sy gevangenisstraf by die Westville korrektiewe sentrum in KwaZulu-Natal uitdien. Waarnemende hoofregter Sisi Khampepe het ‘n lasbrief tot inhegtenisneming vir Zuma onderteken. Die Konstitusionele Hof het hom Dinsdag tot 15 maande tronkstraf gevonnis weens minagting van die hof. In die lasbrief gee Khampepe beamptes by Westville opdrag om Zuma in hegtenis te ontvang en hom volgens tronkwette te behandel. Die Jacob Zuma-stigting het intussen op Twitter verklaar dat die gewese president die nasie die naweek sal toespreek. Intussen is daar aangekondig dat Zuma vandag ‘n dringende aansoek in die Pietermaritzburg-hof sal bring om sy skuldigbevinding ter syde te stel.