Zuma sal nie insae oor sy straf lewer nie

Oudpresident Jacob Zuma het aan Hoofregter Mogoeng Mogoeng geskryf en gesê hy gaan nie ‘n beëdigde verklaring indien waarin hy insae lewer oor ‘n moontlike straf nadat hy ‘n opdrag van die Konstitusionele Hof geïgnoreer het nie. Dit volg nadat Mogoeng verlede week aan Zuma geskryf en hom tot vandag tyd gegee het om voor te stel wat ‘n gepaste straf sal wees omdat hy ‘n bevel verontagsaam het om voor die staatskapingskommissie te verskyn. Zuma het hom ook niks gesteur aan ‘n beslissing wat hom aan minagting skuldig bevind het omdat hy die opdrag geïgnoreer het nie.