Zuma-ondersteuners dreig oorlog

D-dag kom nader vir oudpresident Jacob Zuma om sy vonnis van 15 maande vir minagting van die hof te begin uitdien en sy ondersteuners het beklemtoon oorlog gaan losbars as mag gebruik word om hom in aanhouding te kry. Hulle het gister sy tuiste by Nkandla in KwaZulu-Natal afgesper en daar word berig dat skote afgevuur is. Lede van die uMkhonto we Sizwe-militêre veterane-vereniging kon in uniform gewaar word en het volgens berigte joernaliste gedreig om nie foto’s of video’s te neem nie. Die Konstitusionele Hof het gelas dat Zuma die naweek by die plaaslike polisie aanmeld om sy vonnis te begin.