Zimstats sê 773 000 Zimbabwiërs in SA, SA het net 178 000 op rekord

Die Zimbabwe Nasionale Statistiekagentskap, bekend as Zimstat, sê Suid-Afrika is die tuiste van meer as 773 000 Zimbabwiërs terwyl Botswana die tweede hoogste aantal emigrante uit die land het, met net meer as 40 000. Zimstat het in April ‘n sensus uitgevoer en sê dat Suid-Afrika die belangrikste land van verblyf vir emigrante is met 85 persent. Botswana het 5 persent van Zimbabwiese emigrante en die Verenigde Koninkryk 3 persent. Die jongste syfers is ver bo die aantal Zimbabwiërs wat wettiglik in Suid-Afrika is – daardie syfer staan op 178 000. Volgens Zimstat het die hoogste aantal Zimbabwiërs verlede jaar die land verlaat sedert onafhanklikheid in 1980. ’n Bestendige styging sedert die jaar 2000 is opgemerk, maar ná die staatsgreep van 2017 was daar ’n skerp toename in mense wat die land verlaat het.