Zambezi-inwoners te bang om naby Chobe te kom

Uitdagings met die Botswana weermag duur volgens berigte voort in die Zambezi-streek. Die goewerneur Lawrence Sampofu sê inwoners van sy streek is te bang om naby die Chobe-rivier te kom omdat hulle nie weet of hulle lewendig sal terugkeer nie. Sampofu sê inwoners wag op die regering om hulle sekuriteit te waarborg. Hy sê sy kantoor is gefrustreerd en saam met die tradisionele owerhede wag hulle vir terugvoer van die ministerie van buitelandse sake. Die jongste voorval van teistering deur die buurland se weermag was in Mei vanjaar. Dit volg nadat ‘n familie van vier vissermanne in November verlede jaar doodgeskiet is.