Winde, Ramaphosa vergader… ramptoestand sal bespreek word

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, sê hy sal vandag met President Cyril Ramaphosa vergader tydens die president se Koördineringsraad, en sal ‘n ernstige beroep op hom doen om die Nasionale Ramptoestand dadelik te beëindig. Winde sê werklose Suid-Afrikaners moet nie gedwing word om tot 15 April te wag voordat ‘n moontlike aankondiging hieroor gedoen word nie. Winde is bekommerd dat alhoewel die regering amptelik sê werkskepping geniet voorkeur, sy optrede die teenoorgestelde bewys. Winde sê die beëindiging van die ramptoestand sal die regte boodskap aan werkloses stuur.