WGO sê brandstof is dringend in Gaza nodig
Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy kan weens die veiligheidsituasie steeds nie brandstof en noodsaaklike mediese produkte na groot hospitale in die noorde van Gaza stuur nie. Na raming is ʼn derde van die hospitale in Gaza en byna twee-derdes van die primêre gesondheidsklinieke gesluit weens skade of gebrek aan brandstof. Die WGO sê vir mense in die Gazastrook is die situasie benard, maar dit sal rampspoedig raak indien brandstof, mediese voorrade en bykomende humanitêre hulp nie veilig en gereeld gelewer kan word nie.