Wet wat sekswerk wettig in SA oop vir kommentaar

Die Wysigingswetsontwerp op Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede wat sekswerk wettig, is in Suid-Afrika vir openbare kommentaar oopgestel. Daar word gehoop die wettiging van sekswerk sal menseregteskendings teen sekswerkers verminder. Volgens die minister van justisie, Ronald Lamola, het die jarelange kriminalisering van sekswerk net tot hoër vlakke van geweld teen sekswerkers gelei. Hy sê die wettiging daarvan sal die stigma rondom sekswerk verwyder en toegang tot basiese dienste en beskerming deur wetstoepassings-agentskappe moontlik maak. Bestaande wette wat kinders verhoed om seks te verkoop en mensehandel vir seksuele doeleindes verbied, sal nie verander nie.