West se wasbeeld in Londen verwyder

Die Amerikaanse kletsrymer Kanye West het nóg terugslae beleef ná die herrie oor sy anti-semitiese uitlatings op sosiale media. In die jongste voorval, het die Amerikaanse skoen-vervaardiger, Skechers, aangekondig dat West van die maatskappy se perseel weg-begelei is, toe hy ongenooid opgedaag en sonder toestemming beeldmateriaal begin verfilm het. Die maatskappy sê hy het geen planne om met West saam te werk nie. West se wasbeeld in Madame Tussauds in Londen is ook verwyder. Verskeie maatskappye het vroeër ook hulle borgskappe onttrek, terwyl atlete hulle kontrakte met sy sport-bemarkings-maatskappy, Donda Sports, gekanselleer het.