Werkers hou nie van FIMA nie

Nog protesaksie is teen die nou omstrede FIMA-wetgewing in die land geloods. B2Gold se mynwerkers het onder die leiding van hul vakbond, die Mynwerkersvakbond van Namibië, die protesoptrede gehou. Mynwerkers sê hulle kan enige tyd afgedank word, veral omdat myngroepe gereeld herstruktureer. Sommige werkers word ook gedwing om vroeër af te tree. Hulle sê pensioenfondse word in sulke uitdagende tye benut om huislenings en meer te betaal en dus, kan die regering nie hul pensioengeld reguleer nie. Verskeie ander, kleiner protesaksies is ook in die hoofstad gehou. Die wetsontwerp laat toe dat ‘n lid van ‘n pensioenfonds net 25 persent van sy aftreegelde voor die ouderdom van 55 kan neem. Namfisa het te kenne gegee dat hy steeds konsulteer oor die voorgestelde wet en indien nodig sal aanpassings aan die voorgestelde wet gemaak word.