Weermag se verkryging weer in die nuus

Die verkrygingsprosedures van die Namibiese weermag is weer in die nuus. Die weermag is bekend daarvoor dat hy geen inligting bekendmaak oor sy besteding nie en gebruik gereeld die vaandel van geklassifiseer of veiligheid en sekuriteit, al bestee hy openbare fondse. Die Tender Bulletin berig dat die weermag vanjaar 10 miljoen Namibiese dollar ontvang het vir meubels en kantoor-toerusting, of 12,7 persent van die totale begroting hiervoor. Dit is die eerste keer wat hy begroting hiervoor uitsit, sedert 2016-2017. Dit beteken die weermag het in die afgelope ses jaar nie ‘n enkele stoel, bed of rekenaar aangekoop nie. Die ouditeur-generaal Junias Kandjeke het onlangs uitgevaar teen die weermag se geheime besteding en gee ook herhaaldelik ‘n ongunstige ouditmening, omdat hy nie die mag se boeke kan balanseer nie. Hy het ook onlangs melding gemaak van onregmatige besteding deur die mag by sy sogenaamde kommersiële vertakking, August 26.