Waarskuwing teen vol damme in SA

Suid-Afrikaners word gemaan om uiters versigtig te wees naby waterbronne namate die land se damme vol word. Dit volg op swaar donderstorms die afgelope paar weke wat erge kitsvloede en tientalle sterftes in laagliggende gebiede regoor die land tot gevolg het. Die departement van water en sanitasie sê die watervlakke van waterbronne in die land het skerp gestyg ná die onlangse swaar reënval. ‘n Woordvoerder van die departement, Wisane Mavasa, sê die vlakke van watervoorsieningstelsels het ook landwyd toegeneem. Sy sê ondanks die verligting van die reën, bly Suid-Afrika ‘n waterskaars land.