Vyf jong mense sterf ná weerlig hut tref

Vyf jong mense het doodgebrand in ‘n hut wat deur weerlig getref is by die Oneifiyo-nedersetting in die Epembe-kiesafdeling in die Ohangwena-streek. Volgens die Namibiese polisie was die vyf mense deel van ‘n groep van nege wat in ‘n tradisionele hut was. Die hut het na bewering aan die brand geslaan nadat dit deur weerlig getref is. Die oorledenes wat onherkenbaar verbrand het, is tussen vier en 19 jaar oud. Die oorlewendes is almal ook onder die ouderdom van 19 jaar. Dit is die tweede keer in vyf dae dat mense as gevolg van weerlig sterf, nadat twee vroue en ‘n twee-jarige meisie deur weerlig in ‘n oop veld by die Manyondo-nedersetting in die Kavango-Wes-streek getref is.