VSA is vies oor Opul se verlaging van 2 miljoen vate daagliks

Brent ru-olie het opgeskiet van rondom 91 Amerikaanse dollar ‘n vat na bo 93 dollar ‘n vat na die aankondiging deur Opul en sy vennote dat olieproduksie met 2 miljoen vate verlaag sal word in November. Opul se de-facto leier, Saoedi-Arabië, sê die verlaging – wat gelykstaande is aan 2 persent van die globale aanbod – is nodig om te reageer op stygende rentekoerse in die Weste en ‘n swakker globale ekonomie. Maar, die VSA beskuldig Saoedi daarvan dat hy saam met Rusland, wat deel vorm van Opul+, gespan het. Die Withuis sê dat President Joe Biden sal voortgaan om te bepaal of verdere strategiese olievoorrade vrygestel moet word om pryse te verlaag. Intussen sê die Amerikaanse minister van buitelandse sake Antony Blinken dat hulle sal voortgaan om die prys van energie te probeer beheer.

Ekonome het reeds vroeër aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat olieproduserende lande regverdige wins maak wanneer olie teen rondom 80 Amerikaanse dollar ‘n vat verhandel.