Vroue-skeidsregter maak Bok-geskiedenis in Bloem

Rugby: Geskiedenis sal gemaak word wanneer die Springbokke Portugal in Julie vir die eerste keer in ‘n toets in Bloemfontein ontmoet. Die wedstryd sal behartig word deur Hollie Davidson van Skotland. Sy sal die eerste vrou wees wat beheer van ‘n Bok-toets neem. Wêreldrugby het die wedstrydbeamptes vir al die Junie- en Julie-wedstryde aangekondig. Chris Busby van Ierland sal in beheer wees wanneer die Bokke op 22 Junie op Twickenham in Londen teen Wallis te staan kom. Angus Gardner van Australië en Karl Dickson van Engeland sal die Bokke se twee toetse teen Ierland in Pretoria en Durban onderskeidelik hanteer.