Israel neem Gaza-kant van Rafah-kruising oor

Israeliese magte het beheer oorgeneem van die Palestynse kant van die Rafah-kruising tussen Gaza en Egipte, die enigste poort tussen Egipte en Gaza vir humanitêre hulp. Hulpbeamptes sê die vloei van hulp deur die kruising is gestop. Dit kom voor ‘n nuwe ronde onderhandelinge oor ‘n wapenstilstand in Kaïro, ná ‘n aankondiging deur Hamas-leiers dat hulle ‘n onlangse voorstel vir ‘n ooreenkoms sal aanvaar. Israeliese amptenare sê hulle sal ‘n afvaardiging stuur vir verdere samesprekings. Die Israeliese weermag het Maandagaand geteikende aanvalle teen Hamas in Rafah uitgevoer. Die stad se Koeweitse hospitaal sê ten minste 11 mense is dood en dosyne ander beseer in die bombarderings.