35 lugrederye reeds op pad na AviaDev Africa-forum

Organiseerders van die AviaDev Africa-geleentheid, wat van 19 tot 21 Junie in Windhoek gehou sal word, sê 35 lugrederye het reeds geregistreer om deel te neem, en meer is op pad. Die Namibië Lughawensmaatskappy gaan die jaarlikse forum aanbied, wat invloedryke belanghebbendes, insluitend lugrederye, lughawens en toerismerade en kundiges in die bedryf, byeenbring. Dit is om samewerking te bevorder, strategiese vennootskappe te smee en geleenthede te verken wat nuwe lugroetes regoor Afrika sal lewer. AviaDev Africa bied ‘n platform vir lugvaartkundiges, beleidmakers en bedryfsleiers om oplossings te bespreek en te ontwikkel vir uitdagings in die Afrika-lugvaartbedryf. Die konferensie sal ‘n reeks sprekers, paneelbesprekings en werkswinkels bevat, sowel as ‘n uitstalling van lugvaartprodukte en -dienste. Kosmos 94.1 Nuus het gepraat met Dan Kamati, die Lughawensmaatskappy se woordvoerder, oor hoe voorbereidings verloop.