Vrou op Kaapstad-lughawe glo met kokaïen vasgetrek

‘n Vermeende dwelmsmous sal môre haar eerste verskyning in die landdroshof in Bellville maak op ‘n aanklag van die besit van dwelms. ‘n Polisiewoordvoerder sê die 28-jarige vrou is by die Kaapstadse Internasionale Lughawe in hegtenis geneem met dwelms ter waarde van 870 000 rand in haar besit. ‘n Geïntegreerde multidissiplinêre operasiespan wat die Valke insluit het die verdagte onderskep. Die gesamentlike span het opgetree ná ‘n wenk oor ‘n verdagte wat van Sao Paulo, Brasilië, na Kaapstad reis. Toe die owerhede haar bagasie deursoek het hulle na bewering op meer as twee kilogram kokaïen afgekom.