Vreemde voorval by padblokkade in die Noorde

Die Namibiese polisie ondersoek ‘n voorval van moord en selfmoord by die Onhuno padblokkade in die Endola kiesafdeling in die noorde. Volgens owerhede het ‘n 45-jarige man sy broer, 32, in die motor geskiet en net voor die padblokkade, hom uit die motor gegooi. Hy is deur owerhede voorgekeer en terwyl die polisie beampte na die motor gestap het, het die man homself in die kop geskiet. Hy is op die toneel dood en is as Pombili Hauwanga, 45 jaar oud, geïdentifiseer. Sy broer word in die hospitaal op Engela behandel. Die insident, wat laat Saterdagmiddag plaasgevind het, word ondersoek.