Vredesamesprekings vir Tigray begin vandag in SA

Die rebelle-owerhede in Ethiopië se Tigray-streek het hulle deelname aan vredesamesprekings vir vandag in Suid-Afrika bevestig. Die vergadering, wat die Afrika-Unie gereël het, is gemik op die beëindiging van die tweejaarstryd in die noorde van die land. Daar word berig die Ethiopiese regering, wat sedert November 2020 in ‘n oorlog met die rebelle-owerhede in Tigray gewikkel is, het verlede week sy deelname aangekondig. Die bemiddelaars is die voormalige adjunk-president, Phumzile Mlambo-Ngcuka, die voormalige Nigeriese president Olusegun Obasanje, en die voormalige Keniaanse president, Uhuru Kenyatta.