Voyager-1 stuur weer inligting na die aarde

Die Amerikaanse ruimte-agentskap sê sy Voyager-1-tuig stuur weer bruikbare inligting na die aarde, na maande se brabbeltaal. ‘n Rekenaarfout het dit in November gestop om leesbare data te stuur, maar ingenieurs het dit nou reggestel. Op die oomblik stuur Voyager slegs gesondheidsdata oor sy stelsels aanboord terug, maar verdere werk behoort die wetenskaplike instrumente weer aanlyn te kry. Die 46-jaar-oue Nasa-ruimtetuig is die mensdom se verste voorwerp. Voyager-1 is meer as 24 miljard kilometer weg, so ver, sy radioboodskappe neem ‘n volle 22,5 uur om ons te bereik.