Botswana-presidentsvrou trap saam in uitdaging

Die presidentsvrou van Botswana, Neo Jane Masisi, het aangesluit by ‘n groep fietsryers van Botswana, Namibië en Suid-Afrika in ‘n fietsry-uitdaging. Altesaam 30 fietsryers van die drie lande ry van Rustenburg in Suid-Afrika na Walvisbaai, en het Maandag hul laaste nag in Botswana deurgebring. Masisi het die fietsryers Dinsdag in Tshootsha, Botswana, verwelkom voordat hulle na Namibië vertrek het. Die uitdaging is deel van ‘n reeks aktiwiteite wat deur die Trans-Kalahari Korridor Sekretariaat gereël word, ter herdenking van hul 20ste bestaansjaar. Masisi neem deel aan die uitdaging saam met Botswana se vooraanstaande fietsryer Albertina Milton tot by die Namibiese grens by Buitepos, waar hulle deur Namibië se vervoer-minister John Mutorwa ontvang sal word.