Voorsanger van Nazareth sterf

Dan McCafferty, die legendariese Skotse voorsanger van die rockgroep Nazareth wat onder meer die liedjie Love Hurts met hul weergawe op gewilde ranglyste geplaas het, is in die ouderdom van 76 dood. McCafferty was in 1968 medestigter van die gewilde rockgroep. Die lied Love Hurts is eerste deur die Everly Brothers gesing, maar dit was Nazareth se weergawe van 1975 wat ‘n weghol-sukses was. Dit was nommer agt op die Billboard Hot 100 in die VSA, wat dit hul mees identifiseerbare liedjie ooit gemaak het. McCafferty het in 2013 opgehou toer as gevolg van chroniese obstruktiewe longsiekte. Hy word deur sy vrou Maryann en ander familielede oorleef.