Voormalige Mahikeng-munisipale bestuurder se VBS Bank-saak uitgestel

Die saak teen die voormalige munisipale bestuurder van die Mahikeng-streeksmunisipaliteit in Noordwes, Thabo Mokoena, is tot ses September uitgestel. Hy staan tereg op aanklagte van oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, asook die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Bedrywighede. Dit hou verband met ʼn belegging in VBS Bank. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgsgesag in die provinsie, Henry Mamothame, sê Mokoena se regsverteenwoordigers sal binne ʼn week ʼn voorlegging aan die Staat doen.