Vol bank regters vir Dimbu se plakkersaak

Regter Collins Parker het opdrag gegee dat die partye in Dimbulukeni Nauyoma se saak waar hy die Namibiese regering en die prokureur-generaal dagvaar om die sogenaamde Plakkersproklamasie van 1985 ter syde te stel, teen einde November hul hoofargumente indien. Die regter het ook die aanklaer-generaal en hoof van die Namibiese polisie as respondente bygevoeg. Volgens hom, pas hulle die land se wette toe en het dus ‘n belang in die saak. Daar word verwag dat ‘n vol bank regters die saak in Desember sal aanhoor. Volgens Nauyoma is die wetsontwerp, wat gebruik word om plakkers wat onwettig op grond woon, te verwyder, strydig met die land se Grondwet.